Status update:
- Valle = steeds 3 – 2 vir Stav
- Totale Km afgele = +/- 5800 kms (Offroad = +/- 1600 kms)
- Tyd spandeer op die ysterperde = 92 uur
- Tyd spandeer by grensposte = 17.5 uur
- Siektes en kwale = geen (Afrika luiheid het ons al ‘n paar keer getref)
- Huidige posisie: Entebbe, Uganda (13 Julie)
- Volgende bestemming: Kenya, maar oppad na Addis, Ethiopie (die trip sal seker omtrent 5/6 dae neem. Harde ry wat voorle!)
Hoesit oesit! Yip, daar is weer ‘n kort tydjie wat afgeknyp kan word vir ‘n vinnige toer update. Tans rus ons uit vir die volgende rowwe ‘stretch’ by Carl Black en sy gesin wat betrokke is by die sending organisasie AIM hier in Uganda. Dis wonderlik om by ‘n huis verwelkom te word van tyd tot tyd so tussen deur die swerwery en tent opslaan!
There is two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle. -Albert Einstein-
Elk geval, dit gaan nog goed, bitter goed. Die afgelope 10 dae in Uganda was regtig wonderlik met asemrowende berge, woude, mere, offroad paaie en avontuurlustige bedrywighede. Ons het die aaneenlopende heuwels van Rwanda gegroet met ‘n agterpaadjie wat verby die land se vulkane en gorilla park verby loop. Die Uganda grenspos was rustig en teen 14:30 was doanne en immigration se ‘officials’ steeds op lunch! Ten minste het hulle ons, soos die res van Uganda, vriendelik ontvang toe hulle teen 15:00 weer deure oopmaak. Die enigste minder vriendelike afdeling van die land is hulle bus en trok drywers teenoor motorfietse...
Motorfiets taxi’s, of eerder Boda-Boda’s soos hulle hier beter bekend staan, is ongelooflik gewild en orals. Die 80-125cc fietsies gebou deur die Indiers dra tot 3 passasiers of word gelaai met vragte van oor die 100kg – wat ongelooflik is want ek is seker met 30/40kg gelaai en voel vrek swaar op my 650cc! Hierdie outjies is die werkdonkies van Afrika en hulle bestuurders sonder vrees! Maar ongelukkig handhaaf hul slegs ‘n maks van 50km/h en word net soos ‘n trapfiets op die paaie deur die groter motors hanteer. Dit beteken dat ‘n motorfiets, ons sin inkluis, geen padregte het nie! Wat beteken, meer direk: “van die pad af of word getrap!”. Ons loop dus lig en kry goeie oefening vir Ethiopie wat blykbaar nog erger is…
Nieteenstaande ons niebestaande padreg, is Uganda nog net ongelooflik gewees! Ons het al ontspan by die feetjie meer, Bunyoni, met die motorfietse gekruis deur die ‘Ondeurganklike bos’, Bwendi (waar oor die helfte van die wereld se berggorillas hulle huisves) en die hoogste bergreeks in Afrika se rante geklouter – dis nou die majesteuse Rwenzori’s! Die mense is vriendelik en verwelkomend en behandel ons 2 vuil bikers soos supersterre. Almal wil ‘n foto he – die dames met ons en die manne met die bikes Ek voel nogal ‘n bietjie soos Ewan McGregor…
How could drops of water know themselves to be a river? Yet the river flows on. -Antoine De Saint-Exupery-
Ons laaste stop voor die Entebbe was Jinja, die sogenaamde oorsprong van die Victoria of wit nyl. Hier is daar een ding wat almal trek – om die nyl te ‘white water raft’! Dit het ons ook dan gedoen. Die rivier is magtig, die water baie, die visarende volop, die rapids groot en dit alles is ‘n perfekte kombinasie en medium vir die pomp van adrenalien! Dit was vrek cool gewees!
Al mag alles soos vet prêt en wille rondtoer klink, is dit ook meer as dit. Afrika se wildheid en mense raak mens. Die grootheid van sy probleme verstom my en maak my mismoedig. En my eie kleinheid en hulpeloosheid om te beinvloed besef ek net meer en meer… Maar tussendeur die warboel van emosie en geskommelde drome is God. God het lief en is goed. Hy het ‘n plan en roeping vir ons elkeen se lewens en ek glo elke oomblik dat Hy nooit die liefdevolle mense van Afrika sal agterlaat nie! Ek glo steeds daar is lig (en ons moet dit wees) vir sogenaamde ‘donker Afrika’…
Ek sluit eers af. Ons diens vandag ons ysterdonkies en sal more die lang pad na Addis Ababa, Ethiopie, begin aandurf. Blykbaar is noordelike Kenya se paaie van die rofste wat ons kan verwag op die trip en is daar boonop stropers (of Bandit) aktiviteit met gedeeltes. Bid asb saam vir ons veiligheid.
Seengroete!
Monday, July 13, 2009
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
cause he's a jolly good FELLOW!!!! baie geluk met die "actionary" status (sien ek sit dit hier op jou blog dat almal kan sien):)
ReplyDeletehoop dis lekker in addis...