Tuesday, September 29, 2009

Die home stretch

Ja nee, dis regtig ook tyd vir my om die trip se gebeure vir my ywerige volgelinge aftesluit. Ek meen, ek is alklaar weer op 'n ander kontinent en julle is steeds in die donker... Jammer, ek het bietjie afgeskeep, maar ek sal my bes probeer om julle volledig op hoogte te bring!

Laat ek eers ook gou raak aan die stats (dit wat, natuurlik, vreeslik naby aan enige aktuaris se hart is):

- Valle = 6 elk! (Ons het gelukkig ons valle klaar geval in Noord Kenya)
- Punctures: ek dink hierdie is naby aan 20, of ten minste voel dit so!
- Totale Km afgele = +/- 19 000 kms (Offroad = +/- 6 500 kms)
- Tyd spandeer op die ysterperde = steeds is dit onmoontlik om te bepaal, maar weet net dit was baie, vrek baie.
- Tyd spandeer by grensposte = 31 uur (die goeie ou Noord Mosambiek grenspos was ons ergste - ons moes sowat 3 uur voor die kleihuisie sit en wag vir beter dae. Jy het nog nooit Afrika tyd so ekstreem beleef nie!)
- Siektes en kwale = Ek dink regtig ons kan dankie se vir die Here se beskerming. My Zanzibar maagparasiet was heel hanteerbaar as mens na die groter prentjie kyk.
- Huidige posisie: Londen, UK
- Volgende bestemming: New York, VSA (soos julle kan agterkom gaan my avonture nog bietjie voort!)


Eintlik het Duane julle heel goed ingelig omtrent ons laaste 2 weke se reis. Soos hy gese het, het ons ysterperde begin stal ruik die laaste paar dae. So, ons het nogal beweeg en nie doekies omgedraai nie! Dit was baie lekker om ook saam met Fernando, die Spanjaard, te kon toer. Dit het lekker aan die dinamika verander en sy bietjie Portugees het ook handig te pas gekom in Mosambiek. Hy kom hopelik volgende jaar bietjie 2010 Sokker kyk saam met 'n paar vriende, so hopelik ontmoet van julle hom dan! Hy is altyd keen vir 'n lekker partytjie!

Mosambiek self was ook lekker, alhoewel kort. In die noorde het ons duisende kilometers gery waar daar net niks was nie. Dis nogal skrikkerig om te beleef hoe min aangaan op party plekke in Afrika!

The journey gives meaning to the destination. -Ken Duncun-


Ilha de Mozambique, waar ons die Spanjaard gevang het, was baie mooi gewees. Hierdie ou Portegeese handelroete hoofstad het 'n unieke gevoel. Mens kon jou nogal regtig inleef in hoe dit moes gewees het 'n paar honderd jaar terug. Dis dan ook hier Mosambiek se legendariese seekos behoorlik op die proef gestel was. Die hoogtepunt was verseker die +/- 4kg kreef wat die 'local fishermen' aan ons verkwansel het vir 'n appel en uit wat toe net so op die strand gebraai is. Hierdie meneer het oorgenoeg vleis in sy stert gehad vir omtrent 6 mense!! O, en dit was vreeslik lekker gewees!



Ons voorlaaste stop op Vilankulo was ook nie 'n teleurstelling nie. 'n Goeie dag se snorkel en son het toe ons seevakansie afgesluit voor ons paaie geskei het in Maputo.



Ek is vreeslik bevoorreg met goeie vriende wat vir my 'n blyplek gaatjie oopgelos het vir volgende jaar met my terugkeer na Bloubul wereld. Deel van die rede vir die laaste paar dae se resies huis toe was dan ook om die nuwe huis se inweidingsaand in Pretoria te kon meemaak. Ek het geweet daar is 'n klomp goeie vriende daar bymekaar en die plan was om as 'n 'surprise' daar aantekom.

Die enigste probleem was net dat daar regtig niks oor was van my agterband nie en ek het voorwaar nie geweet of ek Pretoria gaan maak nie. So, my plan in Maputo was om die band te vervang op Nelspruit. Wel, dit het toe ook nie so uitgewerk nie. Die SA / Mosambiek grenspos was absolute chaos!! Toe ek 4 ure later deur die hekke is het ek besef ek sal die kans moet vat en deurdruk Pretoria toe - aangesien die winkels vroeg toegemaak het op die Saterdag.



Baie stadig en versigtig ry ek toe in die geel lyne teen 80km/h Pretoors toe. Die dinge het goedgegaan tot en met Middelburg - want met die petrol ingooi by die Shell ultra sien ek dat ek 'n flat het op my agterwiel. Sonder enige tyre tools (hierdie was alles saam met Duane) sit ek toe gestrand, 130km kort!! So ek het dit net-net nie gemaak nie...

My enigste opsie was toe om lifts vir my en die bike te bedel by elke verbykomende bakkie. Die meeste ouens het gedink ek is 'n bedelaar en my heeltemal geignoreer vir die eerste 3 min totdat my storie vir hulle begin oortuig het hoekom ek in so hawelose, sleg ruikende toestand gelaat is. Gelukkig het ek genoeg simpatie by Michael, 'n kragstasie bouer, gevind en hom oortuig gekry om my te gaan aflaai by die partytjie! Dit was great gewees, dankie Michael!




Niemand het die aankoms verwag nie en dit was 'n gesig om almal se verbaasde gesigsuitdrukkens te beleef toe hulle die vuil, Afrika-wegloopkind met vertrae reaksies herken. Ek het ook natuurlik heeltemal die bewerasies gehad van al die opwinding! Dit was net great gewees !! :) Ai, mens besef dam hoe kosbaar jou mense en vriende vir jou is as jy eers so lank weg van hulle af was!!

Time you enjoy wasting, was not wasted. -John Lennon-



Nou ja, so het die 'epic adventure' ook tot 'n einde gekom. Ek kan nie glo dis verby nie... Dit was werklik 'n ongelooflike voorreg om alles te kon beleef en net God se Afrika skepping so 1e hands te kon beleef!! WOW!!! Dit was absoluut die moeite werd gewees!!

No pessimist ever discovered the secret of the stars, or sailed to an uncharted land, or opened a new doorway for the human spirit. -Helen Keller-

Ek wil net by Duane aansluit en vir julle dankie se vir al die sms'e, ander terugvoer en gebed. Ons het regtig die Here se seen, beskerming en guns keer op keer met die trippie beleef. Ek dink ons glo ook albei dat ons baie geleer het en dat dit nie net gemorsde tyd was nie. Ek dink ek gaan eers later besef waar ek die lessies kan toepas wat ek met die 2009 ysterperd trip geleer het.

En nou sit ek weer in London. Die anderkant van die wereld, die 1e wereld op sy sogenaamde beste. Ek sien baie uit vir die kuiers en ervarings wat nog voorle... Moontlik hou ek julle sommer met 'n blog update so vinnig op hoogte :)

Lou-Ann se flat uitsig in Londen:


Jowyk

No comments:

Post a Comment